Press Enter / Return to begin your search.

StapjouStorie

Plaaspad

Kom deel in die opregtheid, naaktheid en volheid van hierdie stuk aarde tussen Kenhardt en Vanwyksvlei.

Die plaas, Holboordskolk is 60km van Vanwyksvlei en 90km van Kenhardt in die Bo-Karoo geleë. Dit is die plek waar ek sedert 2004 ‘n holte vir my voet en my siel vind. Die droë, ontbeerde aarde en die eenvoud wat hier te vinde is, is soms oorweldigend, maar die vrede, verligting en vryheid waarin jy jouself hier vasloop, is moeilik vergelykbaar.

My liefde vir skryf, storievertelling en stap het bymekaar gekom en ek deel graag die uitgestrekte ruimte onder die grote uitspansel met mense wat lief is vir die natuur en vir ‘n wyle wil wegraak.

Jy het ‘n keuse tussen die Plaaspad-camino wanneer ons die plaas platstap en saans by ons bestemming kamp opslaan of die Storiestap wanneer jy deur middel van skryf- en storieoefeninge begelei word om nuwe vaardighede en insig te ontwikkel op jou pad van sinskepping.

Maak jou reg vir ‘n tyd van stilte, sterre, vars lug, skoon water, stories om die vuur en ‘n kans om na aan die aarde te beweeg.

Seestap

Onderneem ‘n unieke reis waar die pad jou nie net deur die wonderskone Tuinroete neem nie, maar jou ook met begeleide storievertelling deur jou binnelandse reis op jou pad van sinskepping

Stories bestaan so lank soos die mensdom, want elkeen is ‘n iemand met ‘n storie. Selfrefleksie het bewys om mens op die pad van persoonlike groei te help. Daarom is ek opgewonde om storievertelling as instrument te kan gebruik vir bewusmaking en bemagting.Toe die lewe my Mosselbaai toe bring, het ek seker gemaak om ook die staproetes in en om hierdie mooi kusdorpie te ondersoek.

Hierdie staptog plaas dus die fokus op storievertelling wanneer jy deur middel van skryf- en storieoefeninge begelei word om nuwe vaardighede en insig te ontwikkel op jou pad van sinskepping.